Ná meer as 45 000 km gedurende drie ekspedisies van drie maande elk oor die afgelope drie jaar, arriveer die span by La Chacra Holandesa van Jan en Marieke Kuper in Uruguay. Dit is waar die reis drie jaar gelede begin het. Dit is net gepas dat dit ook hier eindig. Die laaste week word spandeer om die voertuie skoon te maak, te pak en voor te berei om na Suid-Afrika teruggestuur te word. Dit laat ook besin oor 'n uitsonderlike reis waar alle onafhanklike lande van die Suid-Amerikaanse vasteland besoek is. Dit is 'n verligting om die ekspedisie af te sluit, maar ook 'n hartseer dag om afskeid te neem van 'n vasteland en sy mense wat die Voetspore-span leer ken en liefhet.